MEDIA & PRESS RELEASES

Nuwe operasie dwing pyn op sy knieë

Michele O’Connor
Die Burger 2007
KAAPSTAD

‘n Nuwe tegniek waarmee kraakbeen in die knie met skenkerweefsel vervang word, gaan eersdags ook Suid-Afrikaners se pyn en lyding verlig.

Dr. Ockie van Zyl, ‘n Kaapse ortopeed wat in heup en kniebeserings en vervangings spesialiseer, het onlangs in België by kollegas gaan kers opsteek oor dié nuwe procedure.

Volgens hom is die operasie eenvoudig en omdat dit ‘n astrokopiese operasie is, is dit minder pynlik en word dit gouer gesond as ‘n gewone ‘oopwond” operasie.

“Dié prosedure word reeds sedert 2003 in Amerika gedoen en die afgelope tyd is dit ook in Europa gewild. Ek hoop om binnekort die eerste operasie ook hier in die Panorama Medi-Clinic uit te voer,” het Van Zyl gesé.

Volgens hom raak ‘n knie waarvan die kraakbeen verwyder is mettertyd onstabiel en pynlik. Dié operasie kan die hele proses omswaai. Dit maak nie saak hoe lank gelede die kraakbeen verwyder is nie, dit kan nou eenvoudig teruggeplaas word.

“Die pasiënt se groote kraakbeen word met ‘n magneetresonansskandering en ‘n rekenaartomografie gemeet en dan word die weefsel van die weefselbank in Pretoria bestel.

‘Anders as weefsel soos ‘n nier of hart, kan die liggaam nie dié weefsel verwerp nie. Alle weefsel word voor dit gebruik word, ook deegliks vir siektes soos MIV/vigs getoets.”

Van Zyl het gesé die operasie kan ongelukkig nie op artritislyers uitgevoer word nie, aangesien dié gewrigte reeds te verweer is.

Die operasie is ideaal vir sportlui an mense wat aktief is. Voorheen is veral sportlui se loopbane deur geskeurde en beseerde kraakbeen van die knie gekniehalter. Dié operasie is ‘n kitsoplossing. Dit kan ook meer as net een keer op ‘n pasiënt uitgevoer word,” het hy gesê.

Volgens Van Zyl duur die operasie sowat ‘n uur. Daarna volg ses weke in ‘n kniestut en krukke en sowat drie maande se rehabilitaise.

Laai 'n PDF  weergawe van hierdie persverklaring af?